Verkeerde oefentegnieke het dikwels tot gevolg dat geen of min vordering gemaak word en daarby is beserings oor die langtermyn dikwels die gevolg daarvan. Ons sien dikwels dat gimlede slegs deur die bewegings gaan, sonder om op liggaamshouding, asemhaling en die regte tegniek te konsentreer. Dit gebeur veral wanneer gimlede swaar wil oefen en dan tegniek afskeep.

Ons leuse is: Gebruik liewer ligte gewigte maar doen die oefening op die regte manier.

Algemene beginsels wat vir al die oefeninge op hierdie webtuiste geld is:

  • Moet nooit momentum gebruik nie. Veral vrouens word diksels deur afrigters aangeraai om baie herhalings, vinnig en met ligte gewigte te doen – dit sal hulle glo help om spiere ferm te maak sonder om bonkige spiere te bou. Hierdie is ‘n mite en sal beserings en min vordering veroorsaak. Doen altyd oefeninge stadig en fokus op die positiewe (die oplig van die gewig) sowel as die negatiewe (die laat sak van die gewig) gedeelte van die oefening. As ‘n duimreël kan gesê word dat die positiewe gedeelte sowel as die negatiewe gedeelte elk ongeveer twee tot drie sekondes moet duur – stoot dus die gewig uit oor ‘n telling van twee tot drie sekondes en laat sak weer oor ‘n telling van twee tot drie sekondes.
  • Asemhaling: Blaas jou asem uit terwyl krag toepas word en trek asem diep in terwyl die gewig laat sak word.
  • Gebruik tydens uitvoer van ‘n oefening slegs die spiere wat ge-oefen moet word. Moet byvoorbeeld nie met jou bene of rug help terwyl jy arms oefen nie.
  • Hou te alle tye jou rug reguit. Konsentreer om selfs terwyl jy die gewig laat sak jou rug reguit te hou. Die enigste oefening waar jou rug gebuig mag en moet word is crunches.
  • Fokus op die oefening. Dit is nie moontlik om met jou maat te gesêls terwyl een van julle besig is met die uitvoer van ‘n oefening nie. Selfs gesprekke tydens ‘n intensiewe kardiosessie is onmoontlik.

hit-and-shape Daar is spesiale plof en spoed oefeninge wat met spoed en momentum gedoen moet word. Leer meer oor hierdie oefeninge onder die afdeling; “Spoed en plofkrag”.